The Veenemans Sopranos


DIE FLEDERMAUS - 1975
 

Een van Barbara se suksesvolste rolle was as Adéle in Johann Strauss se operette Die Fledermaus wat deur TRUK aangebied is. Hier veroorsaak sy met openingsaand in Johannesburg in Julie 1975 'n opskudding met die oorweldigende ovasie wat sy vir haar aria Mein Herr Marquis ontvang het. Die produksie is in Julie 1975 opgevoer in die Aula in Pretoria sowel as in die Johannesburgse Stadskouburg.
 
Die Fledermaus was in daardie jaar aangebied in Afrikaans om saam te val met die Afrikaanse Taalfees om Afrikaans se honderdste bestaansjaar te vier. Die Afrikaanse vertaling is deur Fred Steyn gedoen. Die opvoering het ook saamgeval met Johann Strauss se 150ste herdenking van sy geboortedag. Saam met Barbara het van Suid-Afrika se voorste sangers opgetree.  


Die rolverdeling was soos volg:
 
Rosalinde - Mimi Coertse
Eisenstein - Gé Korsten
Adéle - Barbara Veenemans
Alfred - Michael Renier
Dr Falke - Werner Nel
Prins Orlofski - Marita Knobel
Frosch - Siegfried Mynhardt
Regisseur - Neels Hansen
Kostuums - Neels Hansen
Dirigent - Leo Quayle
Dekor - Johan Engels
 
 



"Neels Hansen adjusts the garment which Barbara Veenemans,
as the maid has borrowed from her mistress's
wardrobe for the ball" - Photo, SUNDAY TIMES 27 July 1975
 
 
 
 
 
In 'n onderhoud met Barbara [publikasie en datum onbekend], skryf J.J.L onder die opskrif BARBARA REEDS 'N GROOT TREFFER IN OPERA:
 

"... Nou sing en speel sy die rol van Adéle, die stoute kamermeisie wat ook graag na die maskerbal wil gaan en almal se aandag trek as die beeldskone Olga, 'n sogenaamde geheimsinnige edelvrou in die Afrikaanse weergawe van die gewilde werk. Die rol is Barbara se soort kos aangesien dit meer as net 'n pragtige sangstem vereis. Dit vra ook vir toneelspel, iets waarin sy in haar rolle tot dusver uitblink. Vandag se sanger moet kan speel en gelukkig het sy geen probleme hiermee nie. Sy hou van die rol van Adéle omdat dit dialoog asook sang van haar vereis, aangesien sy reeds baie ondervinding in die rigting het weens die baie musiekblyspele waarin sy opgetree het.

 
Barbara is ook baie geesdriftig oor die feit dat Die Fledermaus in Afrikaans opgevoer word. Dit is een van TRUK se bydraes tot die viering van die Taalfees vanjaar. Sy sê dat die borrelende werk pragtig in Afrikaans klink, baie beter as in Engels, en dat Fred Steyn se vertaling daarvan puik is. Volgens Barbara is daar net mooi niks wat hinder in die vertaling nie ... Sy het soveel verskeidenheid dat sy altyd besig is en haar programme is reeds tot amper middel aanstaande jaar vol bespreek ..."
 Daan du Toit skryf in sy koerantresensie [koerant en datum onbekend] met die opskrif 'VLERMUIS' VERDIEN ONDERSTEUNING, die volgende oor Barbara:
 
"Hierdie TRUK-aanbieding met sulke bekende sangers soos Gé Korsten, Mimi Coertse, Barbara Veenemans, Michael Renier, Werner Nel, en ander het werklik sprankelend verloop. Nie alleen is die rolle besonder goed gekies nie, maar die mooi en funksionele dekor, die pragtige kostuums, die smaakvolle bewegings en groeperings het daartoe bygedra om dit 'n besonder genotvolle aanbieding te maak.
 
Wat spel en sang betref was dit ongetwyfeld Barbara Veenemans se aand. Sy is 'n kostelike Adéle, 'n karakter wat sy met stem, gebaar, beweging en gesigsuitdrukking elke oomblik laat leef het. Daarbenewens was haar sang pragtig suiwer en resonant en die groot ovasie wat haar te beurt geval het, het sy dan ook dubbel en dwars verdien ... "
 
 
Bo: Barbara en Ge Korsten tydens repitisies, vir Die Fledermaus, 1975


Mary Rörich van The Pretoria News skryf op 16 Julie 1975 in haar resensie met die opskrif FLEDERMAUS FROTHS WITH FUN die volgende:
 

"For a taste of belle-époque Vienna, try an evening with 'Die Fledermaus'. PACT's current production (given in Afrikaans) has captured all the gaiety, slightly bourgeois sophistication, and sheer schmaltz of Johann Strauss's famous 'waltz'-operetta. I recommend it wholeheartedly … Musically last night's performance was top class. From the first expectant chords of the overture, to the last waltz of the evening, conductor Leo Quayle's Strauss bubbled and frothed irresistibly. And the cast caught the spirit of things, handling the infectious abundance of melody with an exquisite light touch ... But it was Barbara Veenemans who stole the show. She made a deliciously irreverent and irresistible Adéle (Chamber maid in the Eisenstein household). Whenever she was on stage, she infected the entire cast with her vitality and her sense of the dramatic.

 
Op 17 Julie 1975 skryf Thys Odendaal in Die Beeld die volgende resensie met die opskrif 'N WEENSE JUWEEL VIR DIE TAALFEES
 

"... Die ster van Dinsdagaand se opvoering was ongetwyfeld Barbara Veenemans in die rol van die kamermeisie Adéle. Hierdie sangeres was nie alleen in goeie stem nie, maar het veral geïmponeer met haar spel. Vanaf die eerste bedryf het mej Veenemans haar rol met outoriteit gehanteer. 'n Weldeurdagte vertolking wat in die ontplooiing duidelik gedui het op Adéle se hartstogtelike begeerte om aktrise te wees ... "

 
Wouter de Wet skryf in Die Transvaler op 17 Julie 1975 met die opskrif MIMI IS 'N FEES IN VROLIKE FLEDERMAUS, die volgende:
 

"As TRUK se aanbieding van Die Fledermaus nie die vonkel van 'n Oostenrykse Sekt of 'n Franse sjampanje het nie, is dit enige tyd so goed as 'n plaaslik vervaardigde Here XVII. En beter as dit sal niemand in ons land dit kan maak nie ... Barbara Veenemans in die soubrette-rol van Adéle het kort-kort daarin geslaag om die aandag te steel. Haar spel is verruklik ... [daar] gaan min Adèles in Europa wees wat met haar sal kan kers vashou ..."

 
Gerrit Olivier skryf in Die Oggendblad van 21 Julie 1975 met die opskrif FLEDERMAUS PUIK IN AFRIKAANS, die volgende:

"... Wat 'n sprankelende Adéle was Barbara Veenemans nie. Haar geslaagde vertolking van hierdie rol het ongetwyfeld bygedra tot die vonkelwyn-atmosfeer van die opvoering ..."

 
Joe Sack van die Rand Daily Mail skryf op 4 Augustus 1975 die volgende resensie met die opskrif OPERA WITH A WEALTH OF WALTZES
 

"… Barbara Veenemans as Adéle, the chambermaid in Act I who becomes a make-believe lady at Prince Orlofsky's Act II palace reception makes her dialogue fruity effective in both places. She not only looks good but sounds well, giving her part lightness all the more effective for the vocal technique behind it. Her ensembles are sung with real musicality …"

 
In 'n resensie van Die Transvaler deur Hennie Joubert word die volgende onder die opskrif TWEE OPERAS MET KOMPLIMENTE [datum onbekend] geskryf:
 

"... In die groot jaar van Afrikaans is dit voorwaar 'n prestasie en 'n bron van nasionale trots om dit te beleef dat die operas in hierdie seisoen net in Afrikaans aangebied word - en nie sommer bloot net in Afrikaans nie, maar in keurige taal, keurig gehanteer in die meeste gevalle, en gesing grotendeels deur Afrikaanssprekendes, of waar gesing deur andertaliges, gedoen met pragtige beheer en natuurlikheid ... Barbara Veenemans was, soos altyd, die lewendige en aansteeklike kunstenares, en haar Adéle kon die tempo verflink, en sy kon ons in stem meevoer ..."