The Veenemans Sopranos

 Strauss: DIE FLEDERMAUS - 1976
 
 
In 1976 het TRUK besluit om sy geslaagde produksie van Die Fledermaus van 1975 te herhaal in die Johannesburgse Stadskouburg. Barbara sing weereens die rol van Adéle.
 
Die keer is die rolverdeling soos volg:
 
Nellie du Toit - Rosalinde
Gé Korsten - Von Eisenstein
Barbara Veenemans - Adéle
Dawie Couzyn - Dr Falke
George Kok - Dr Blind / Prins Orlofski
Tobie Cronjé - Frosch
Terence Kern - Dirigent
Neels Hansen - Regie en kostuums
 
Henning Viljoen skryf in sy resensie [koerant en datum onbekend] met die opskrif VONKELWYN HET VONKEL VERLOOR:
 
"... In die geheel is hierdie heraanbieding se regie dan ook meer suksesvol omdat die onderskeie nuwe rolbesettings beter in hulle rolle pas. Nellie du Toit se waardige en verfynde Rosalinde kontrasteer byvoorbeeld baie beter teenoor die ondeunde en speelse Adéle van Barbara Veenemans. ... Die dirigent ten spyt, het Gé Korsten (Eisenstein) en Barbara Veenemans (Adéle) hulle vorige sukses in die rolle herhaal en saam met George Kok (Orlofski en Blind) gesorg vir die beste sang en spel ..."
 
 
 
Janaček: JENUFA - 1976
 
 
In 1976 vertolk Barbara die rol van Karolka in Janaček se opera Jenufa vir TRUK.
 
Die rolverdeling was soos volg:
 
Nellie du Toit - JenufaGé Korsten - Laca
Stella Beder - Buryja
George Kok - Steva
Barbara Veenemans - Karolka
Rikie Venter - Jano
Elsabe Boonzaier - Barena
Ravonne Swart - 'n Diensmeisie
Theunis van Rooyen - Die Burgemeester
Margarethe Rauch - Die Burgemeester se vrou
Gloria Roosen - Die Tante
 
Die regie is deur Andy Anderson gedoen, die choreografie deur Geoffrey Sutherland, die dekor deur Anthony Farmer en die kostuums is deur Neels Hansen ontwerp. Die TRUK-orkes is gelei deur Leo Quayle. Die opera is in die Aula in Pretoria vanaf 16 tot 24 Julie 1976 opgevoer en later verskuif na die Johannesburgse Stadskouburg vanaf 30 Julie tot 14 Augustus 1976.
 
Barbara vertel oor die opera-produksie:
 

"Al die rolle wat ek voor hierdie Jenufa gesing het, was tot 'n groot mate redelik moeilik, soms veeleisend soos die rol van Susanna uit Mozart se opera Die Huwelik van Figaro wat een van die langste sopraan-rolle is. Maar o weë, o weë, o weë! Ek word die rol van Karolka, die burgemeestersdogter, aangebied. Ek het so deur die partituur geblaai en gesien dis net 9 bladsye se werk. O vreugde! En ek aanvaar toe die rol.

 

Toe begin ek met die instudering van die musiek en vind toe uit dat elke maat van die gedeeltes wat ek moes sing naarstigtelik getel moes word om die musikale invalle korrek reg te kry. Maklik sou dit wees as jy rustig en stil gesit het en die dirigent kon sien, maar helaas, Barbara spring weer heen en weer rond op die verhoog! My eerste verskyning was al 'n ruk in die opera in. Ek moes meters oor die verhoog hardloop in sig van die gehoor terwyl die inleidende begeleiding speel. Geen harmonie, net 'n herhaling van dieselfde note oor en oor op verskillende ritmes. George Kok en ek het hande gehou met die inhardloop en sover as wat ons gehardloop het, het ons mekaar se hande gedruk om die maat te tel. Op 'n sekere maat moes ek deur die deur van die huis bars en dadelik begin sing, God be with you one and all, one and all …

 

Pragtig geklee in 'n wye handgeverfde rok het ek in die rondte geswaai want ek is die enigste karakter met lewensvreugde in die opera en daar vee ek toe al die glase van die tafel af met my rok wat in 'n duisend stukke op die vloer gespat het. Gelukkig was daar vir ek en George 'n klein pousetjie, toe tel ons maar ewe plegtig al die glasstukke op en bêre dit in 'n kassie op die verhoog. Ek het myself belowe om nooit weer die rol te sing nie en toe hulle die produksie in 1979 herhaal toe aanvaar ek weer die 9 bladsye van hel!"



Strauss: DIE FLEDERMAUS-TOER - 1976
 
 
Na die sukses van Die Fledermaus in 1975, onderneem TRUK om die produksie op toer te neem. Barbara vertolk weer die rol van Adéle.
 
Die rolverdeling was soos volg:
 
Rikie Venter - Rosalinde
George Kok - Von Eisenstein
Barbara Veenemans - Adéle
Ian Donald - Dr Falke
Gwilym Evans - Frank
Russel Kierig - Alfred
Margarethe Rauch - Prins Orlofski
Tobie Cronjé - Frosch
Len Roosen - Dr Blind
Elize Kruger - Ida
 
Die regie en kostuums is deur Neels Hansen behartig en die dekor deur Johan Engels. Musiek is deur Shirley Fox behartig. Vir 14 opvoerings, vanaf 9 - 25 September, toer hulle onder meer na Evander, Edendale, Carletonville, Vanderbylpark, Springs, Ermelo, Lydenburg, Nelspruit, Phalaborwa, Tzaneen, Louis Trichardt, Pietersburg, Potgietersrus en Nylstroom.