The Veenemans Sopranos

 

Malan: FREULE MARIKE - 1957
 

Een van Barbara se eerste professionele verhoogproduksies was in die Afrikaanse operette Freule Marike gekomponeer deur Pierre Malan - op daardie tydstip 'n dosent aan die Onderwyskollege van Pretoria. Die verhaal speel hom af in die ou Kaap. Hier is Barbara 18 jaar oud en sing die hoofrol van Freule Marike wat deur die Pretoriase Onderwyskollege op die planke gebring is. Die bekende Ampie van Straaten het onder andere ook 'n rol in hierdie stuk vertolk. Dit was ook een van die min kere dat Barbara 'n blonde pruik op die verhoog gedra het!




Links: Al wat oor hierdie produksie gevind kon word is hierdie koerantfoto en die klein beriggie daaronder: "Barbara Veenemans, die betowerende jong sopraan, as Freule Marike in die operette van dieselfde naam wat deur die Erato Musiekvereniging van die Pretoriase Onderwyskollege aangebied word, op hul toer deur Noord- en Oos-Transvaal ... "
 


Barbara vertel:


 "Ons het oral met die produksie deur Noord en Oos-Transvaal getoer. Ons het ons gate uit geniet. Dit was maar soms baie primitief wat die verblyf betref. By Tshipise was daar geen verblyf beskikbaar vir enigeen nie, daar was wel die onluukse toerbus wat die mans geannekseer het om in te bly. Ons vrouens moes buite op die grond onder 'n ou vuil stuk seil wat hulle styf probeer span het, slaap. Dit noem ek nou uiters galant van die man! Gelukkig het ek 'n donskombers saamgeneem sowel as 'n kussing, want dit was winter. Ek en een van my mede-speelsters het bo-op die donskombers geslaap want dit was daar in die Noorde darem nie te koud nie.


 Ons het onder moeilike toestande met kerslig ons grimering moes doen in die selfgemaakte 'tent'. Gedurende een van die opvoerings kyk ek terloops af en sien toe dat ek een bruin skoen en een swart skoen aangehad het. Die ergste was, die bruin skoen het nie aan my behoort nie! Maar dit alles was vir ons studente reuse pret.


 Ek kan onthou dat ek een aand baie siek aan 'n keel- en stemaandoening was toe die 'toermoeder' (verantwoordelik vir die morele dissipline onder die studente) vir my 'n leë blikkieskos-blikkie gebring het wat sy êrens in die hande gekry het, dit gevul het met kookwater met 'n groot dollop Vicks Vaporub daarin opgelos. Sy sê toe vir my ek moet my kop toemaak en die goed inasem. So gesê, so gedaan. Daardie volgende aand was ek gesond en het soos 'n nagtegaal gesing!"