THE GREAT WALTZ - 1976
 
 
 
Barbara Veenemans en David Eissler in The Great Waltz vir Truk, 1976

 

Weens die sukses van die eerste seisoen van The Great Waltz het TRUK besluit om dit die volgende jaar in November 1976 te herhaal. Op 11 November 1976 open die tweede seisoen. Weer sing Barbara die rol van Resi in TRUK se aanbieding van The Great Waltz. Aangesien die produksie so suksesvol was, moes TRUK die speelvlak verleng wat tot 1 Januarie 1977 geduur het. Hulle vier ook gedurende die speelvlak die 100ste opvoering van The Great Waltz.
 
Sy sing onder andere weer saam met die Amerikaanse sopraan Jean Fenn, Lawrence Folley en die 20-jarige Amerikaanse tenoor David Eissler.
 
Die rolverdeling van die hoofkarakters was soos volg:
 
Jean Fenn - Helen Vernet
Lawrence Folley - Johan Strauss Sr
Barbara Veenemans - Resi
David Eissler - Schani / Johan Strauss Jr
Ander sangers en spelers wat saam met hulle opgetree het was George Kok, Kerry Jordan, Peter Elliot, Eugenie Chopin-Couzyn en James White.
 
Die regie en ontwerpe is weereens deur Anthony Farmer behartig en die musikale leiding deur Leo Quayle. Geoffrey Sutherland het die choreografie gedoen. 'n Honderd mense op die verhoog het aan hierdie produksie deelgeneem.
 
Barbara vertel oor die produksie:
 
 
"Dit was 'n wonderbaarlike ondervinding om saam met mense soos die Amerikaanse sopraan Jean Fenn wat 'n Metropolitan Operaster was te sing en om met haar bevriend te wees. Sy is nou 'n regte elegante diva. Die jong tenoor David Eissler was ingevoer vanaf Los Angeles. Hy het vir sy ouderdom as 20-jarige 'n manjifieke tenoorstem gehad en hy was ook 'n uitmuntende akteur. Hy was 18 jaar jonger as ek! Ons het ontsettend goed oor die weg gekom al kon ek sy ma gewees het. Ek het so half beskermend teenoor hom gevoel.
 
Resi het seker een van die langste arias in die produksie, 'n saamgeflanste lied van al die Strauss-wysies met dansbewegings (wat ek self uitgewerk het, met Jeffrey Sutherland se goedkeuring). Sy is alleen op die verhoog net met die restaurant baas Dommayer vir wie sy die lied sing. En soos dit altyd met my is, hou ek nie terug nie. Tydens een van hierdie heerlike swaaiende pirouette voel ek hoe iets onder my rok los glip. Die onderrok wat laag-op-laag-op-laag groot is, sak toe ewe onelegant op my voete neer. Wat nou te doen? Die balrok het so 'n maer borokkie geword en ek het tog te treurig gelyk. Maar nooit kon iets my onderkry nie. Ek gryp toe daardie laag-op-laag-op-laag onderrok en so in die sing het ek dit as 'n rekwisiet gebruik. Ek het die onderrok so dans-dans opgetel, want die verskriklike ding moes die verhoog af. In een van my danspassies het ek die onderrok bymekaar gevat en dit met mening van die verhoog af probeer gooi. En wat gebeur toe? Die onderrok het soos 'n valskerm stadig van bo af gedaal en amper op my kop geland. Na 'n paar vrugtelose pogings om van die ding ontslae te raak, het ek daarin geslaag om die ellendige onderrok van die verhoog af te gooi tot groot genot van die gehoor.
 
Gedurende een van ons kleedrepetisies was daar 'n groot ongeluk. In die groot baltoneel hang daar 'n massiewe kandelaar in die middel van die verhoog. Niemand weet hoe dit gebeur het nie. Daardie enorme kandelaar het (soos in die Phantom of the Opera) met 'n oorverdowende knal uit die dak geval en gelukkig almal wat op die verhoog gestaan het gemis. Dit het in 'n miljoen stukkies gebreek. Wonder bo wonder is niemand beseer nie. Ons is huis toe gestuur en toe kon ek gelukkig my dogter se eerste balletuitvoering bywoon. Wat 'n vreugde!
 
Die grootste wonder van The Great Waltz was gedurende die groot baltoneel toe die hele orkes uit die orkesbak opgehys was met die fantastiesste ingenieurs-genialiteit van Anthony Farmer. Die hele orkes het uit die put op wiele geskuif oor die verhoog tot agter op die verhoog wanneer Schani die dirigent-stokkie van sy vader oorneem om die orkes te dirigeer. Wat 'n dramatiese oomblik!"
 
En toe die krisis! Gedurende hierdie produksie breek Barbara haar toon. Sy vertel:
 
"Ek drink toe maar 'n paar flou pynpilletjies om nie die stem te verdoof nie. Dit het nie veel gehelp nie! Die ergste was dat hulle nie my toon kon spalk nie want ek moes vreeslik baie dans in hierdie produksie. Ek het die voet maar so styf as moontlik verbind en moes met hierdie ondraaglike pyn op die verhoog met groot bravade stap om saam met my Schani te gaan sing en wals. Ek het met 'n groot aangeplakte glimlag op die verhoog gegaan en as ek afgekom het, het die selfbejammeringstrane oor my wange gestroom van die pyn en dan was die grimering ook daarmee heen.
 
Om alles te kroon het die seer voet my reflekse vertraag. Een aand het van die flies vinnig uit die dak gesak en wie was toe weer in die pad, ek! Die groot ronde houtbalk van die fly het my op die skouer geslaan (gelukkig nie op die kop nie) maar ek het vooroor geval en net sterretjies gesien; vir so 'n paar sekondes het ek nie geweet waar ek is nie. Die aantreklike Peter Elliot het my skouer kom masseer, wat die ekwilibrium darem gou weer herstel het".
 
Gou het die pers ook van die toonbesering te hore gekom.
 
Phillipa Breytenbach van Die Transvaler van 23 November 1976 skryf onder die opskrif KWAAI PYN KEER BARBARA NIE:
 
"Barbara Veenemans, die oulike Afrikaanse sopraan, het 'n pyn ... 'n ontsettende pyn! Maar baie min mense wat haar sien sing, dans en huppel in TRUK-opera se THE GREAT WALTZ in die Johannesburgse Stadskouburg, weet van dié pyn en lyding! Dié sopraan, wat 'n liefling by Suid-Afrikaanse opera-, operette- en musiekblyspel gehore geword het, het 'n week of wat gelede die 'ramp' gehad dat sy haar linker middeltoon in die middel van die nag, teen 'n yster stoeltjie, kapot gestamp het. 'Ek het gehoor hoe dit klap', het Barbara gister gesê. Hoewel sy oortuig was dat die toon gebreek was, het sy die hele nag uitgehou, net om verlede Maandag by die dokter te hoor dat dié toon gebreek en sy twee maats baie verstuit is.
 
Pyn of nie pyn nie ... die 'show' moet voort! En Maandagaand was Barbara met gebreekte en verstuite tone en 'n rondgeswelde voet op die verhoog om die rol van Resi Ebedeser teenoor David Eissler (Schani) te sing. 'Ek voel soos 'n bull in a China shop', het Barbara gister erken. Sy sê sy voel lomp en onmoontlik. Om die 'pynhisterie' te stil, drink sy twee ligte pynstillertjies. 'Maar sterker en meer pille kan ek nie drink nie ... dan is ek heeltemal verdoof,' sê sy. Sy dra nou wel nie meer in elke toneel die skoene wat sy veronderstel is om te dra nie ... 'ek het my ou uitgetrapte skoene van Die Huwelik van Figaro gekleur en kom nou goed daarmee oor die weg, maar ai ... watter ongemak!' En of haar 'pyn en lyding' nie genoeg is nie, het Barbara Saterdagaand per ongeluk dit weer reggekry om haar voet te laat vashaak in die bakkerstoneel ... en om haar balans te hou, moes sy op haar linkervoet spring! Sy het wel nie neergeslaan nie ... maar gister het sy weer les opgesê.
 
Een ding is seker, die sangeres het nie net al die simpatie en ondersteuning van haar medesangers nie, maar haar braafheid en uithouvermoë het haar net dieper in hulle harte en die van die TRUK-operabestuur laat kruip."
 
En dan word in die volgende berig geskryf, onder die opskrif WALTZING IN AGONY [koerant, skrywer en datum onbekend]:
 
"When listening to Barbara Veenemans singing her role of Resi, the young Strauss's sweetheart, in 'The Great Waltz', now on in Johannesburg, have some sympathy for her. On Sunday night she rose from her bed in her Verwoerdburg home, in the dark, and bumped her foot against a chair only to wake the next morning to find herself with a broken middle toe. Agony. It's in splints now, but she knows that the show must go on - so every night she is on stage nursing her disconsolate digit".
 
In 'n klein beriggie [skrywer onbekend] wat min of meer dieselfde verhaal vertel in The Star Tonight van 20 November 1976 lees die opskrif: BABS BREAKS HER TOE
 
Wouter de Wet van Die Transvaler [datum onbekend] skryf onder die opskrif: WALSKONING LAAT GOUDSTAD JUBEL
 
" ... TRUK se heropvoering van The Great Waltz bevat nog al die elemente wat dit 'n jaar gelede 'n onvergeetlike ondervinding gemaak het: skouspel, uitmuntende sang en danse, wonderlike dekor en kostuums, gedissiplineerde regie ... en die musiek van Johann Strauss ... Barbara Veenemans en David Eissler as die twee jong verliefdes, het hul rolle met groot sjarme gevul. Mej Veenemans se hoë note was klokhelder en jong Eissler - die enigste nuweling in die rolbesetting - is 'n belangrike ontdekking. Sy lieflike tenoorstem het groot plesier verskaf ..."
 
Thys Odendaal [koerant en datum onbekend] skryf in sy resensie onder die opskrif DIE WALS OPNUUT 'N TRIOMF
 
"... Barbara Veenemans is 'n skitterende Resi. Sy is in goeie stem en daarbenewens is haar weergawe vol sprankel en 'n opwindende behendigheid ..."
 
John Brotman van The Star [datum onbekend] skryf in sy resensie met die opskrif 'WALTZ' WALTZES BACK:
 
" ... Barbara Veenemans his daughter is charming. Her duet 'An artist's life' with Eissler, of the struggling Strauss Junior's composition is one of the genuinely moving moments of the production …" The climax is of course the performance of 'The Blue Danube' and the acknowledgement by Strauss the elder of his son's musical identity separate of his own fame. The entire orchestra is raised from the pit and the stage expands in a masterpiece of direction to encompass a magnificent ball."

 

Barabara in the ball-scene, The Great Waltz for Pact, 1976

 
Make a Free Website with Yola.