XANDER HAAGEN EN SY PRODUKSIES
 
 
In 1962 het Barbara ingeskryf as student aan die Toonkuns Akademie van die Universiteit van Pretoria, waar sy sangonderrig by die bariton, Professor Xander Haagen ontvang het. Tydens hierdie periode sing sy onder andere in vele van sy produksies wat hy self geskryf, gekomponeer en op die planke gebring het. Dit was gedurende hierdie jare waartydens Barbara in Xander se produksies opgetree het dat sy haar sang- en speeltalent vasgelê het.
 
Barbara vertel 'n paar staaltjies oor haar sangonderwyser Xander Haagen:
 
"Hulle het hom die Hollandse bariton genoem, alhoewel hy in die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gebore is. Xander het nooit geleer om te bestuur nie, maar 'n groter 'backseat driver' kon jy nie kry nie. Hy was histeries-senuagtig in 'n motor. Net die kleinste foutjie wat iemand in die verkeer begaan het, het hy luidkeels of halflyf by die venster uit 'n obseenlikheid toegesnou, veral as dit jou geluk sou wees om langs die persoon by 'n verkeerslig tot stilstaan te kom. As mense voor jou ry wat na sy mening gevaarlik bestuur, het hy die persoon se nommerplaat met groot drama afgeskryf om dan die arme mens by die verkeersdepartement te gaan aankla (ek wonder of hy ooit sover gekom het?) Ek was die enigste persoon wat hy min of meer vertrou het om mee saam te ry.
 
As sangonderwyser was Xander uitmuntend. Hy het vir my 'n tegniese basis gegee waarop ek altyd kon terugval. Hy het my natuurlike stem geneem en dit ontwikkel sonder om die natuurlike klankkwaliteit te verander. Hy het graag van sy studente in sy musiekblyspele gebruik en so vir ons die geleentheid gegee om ervaring op die verhoog op te doen. Dit was 'n ongelooflike leerskool. 'n Groot getal van ons bekende sangers het deur sy hande gegaan, onder andere: Marita Knobel, George Kok, my suster Leonore, Nicolai Cencherle, Bronwyn Basson, en nog vele meer. Elke sanger uit ons era het die een of ander tyd by Xander klas geneem."

 

AANDSTER VER - 1961

 Hierdie produksies van Xander Haagen wat deur die Universiteit van Pretoria opgevoer is, is oor die hele land op die planke gebring veral in klein plattelandse dorpies. Dit herinner aan die vroeë jare van die Afrikaanse Toneel toe die geselskappe so van een dorp na die ander getoer het. In Aandster Ver het Barbara die hoofrol van Tessa gesing. Barbara het onder andere saam met die ervare Diva van die Afrikaanse Stage die veteraan aktrise Mathilde Hanekom opgetree wat die rol van Bessie gespeel het. Van haar medespelers was onder meer Marita Knobel en George Kok.
 
Voor in die program skryf Xander Haagen die volgende:
 
"Toe THEATRE GUILD, 'n groep gewy aan nie-kommersiële toneel, in Maart 1943, hulle geskiedkundige sukses in New York behaal het met Oklahoma!, het die Musical sy plek ingeneem as 'n belangrike, artistiek-bevredigende toneelvorm. Skitterende prestasies soos South Pacific, West Side Story en My Fair Lady toon aan dat dit nie 'n degenerasie van die toneel is nie, nie slegs 'n prikkelkuns nie. Soos die meeste groot toneelvorme, bied die musiekspel op sy beste iets vir almal, en kom dit alleen in die lewende teater tot sy reg. Aandster Ver is ons eerste Afrikaanse Musiekspel".
 
 
OPSITKERS EN VONKELWYN - 1963
 
 
Opsitkers en Vonkelwyn is 'n verwerking en aanpassing van die eerste produksie Aandster Ver. Die regie is deur Iris Roux behartig en Joubero Malherbe was verantwoordelik vir die dekor en kostuums.
 
 
HAAI-POLFAAI EN TIERLANTYN - 1964
 
 
Met Haai-Polfaai en Tierlantyn verwerf die geselskap groot sukses. Barbara sing die stuitige hoofrol van Trixie in hierdie produksie, waarvan ook 'n langspeelplaat in 1964 gemaak is. Van die hoogtepunte op die plaat is beslis Barbara se Ballade vir 'n Waitress en Mathilde Hanekom se uitvoering van Teater is nou Smarter. Barbara sing hier ondermeer saam met sangers en toneelspelers soos Mathilde Hanekom, Nicolai Cencherle, Hendrik van der Hoven, George Kok, Frances Knipe, Chris Uys, Fannie Papageorge, Lareine de Klerk, Eileen Cencherle, Doreen de Kock, Marie Badenhorst, Rosalie Hunt en André Beaumont.
 
Die produksie is nie net plaaslik in Pretoria op die planke gebring nie, maar letterlik honderde opvoerings is na die platteland gebring waar hulle veral deur die Vrystaat en Transvaal getoer het. Die produksie dra deurgaans die stempel van sy skepper. En miskien tot so 'n mate dat Xander Haagen die stuk dalk oorlaai het. Die program kondig aan: Boek - Xander Haagen; Musiekteks - Xander Haagen; Musiek - Xander Haagen; die rol van Walter Cilliers - Xander Haagen. Die regie is darem deur Cato Brink gedoen.
 
 
 
Nicolai Cencherle en Barbara Veenemans
in Haai-Polfaai en Tierlantyn, 1964.
 
 
Barbara vertel:
 
"Ons het ongelooflik baie opvoerings van hierdie produksie gedoen. Ons het nie net in Pretoria opgetree nie maar het ook deur die platteland getoer. Elke speler moes maar self geld bydra om die produksie te finansier. Ons het natuurlik geen wins daaruit gemaak nie. Dit was vir my en my man 'n heerlike tyd. Dit was voor ons kinders gehad het en my man Philip was ook betrokke by hierdie produksie as verhoogbestuurder, algemene assistent, sowel as die drywer, karweier en opsteller van die dekor".
 
Philip Jordaan [Barbara se man] vertel:
 
"Mens kan eintlik maar sê ek was verantwoordelik vir basies alles wat agter die skerms afgespeel het. Ek was chief, cook, and bottlewasher. Ek moes die produksie se dekor bo-op die dak van my Ford Anglia vervoer! Ek het soos 'n vliegtuig gelyk wat baie baie stadig probeer opstyg het. Ons moes ver ry tot sover as die Vrystaat, soos byvoorbeeld na Petrus Steyn met die karretjie en sy belading. By die dorp aangekom was ek verantwoordelik om voor elke opvoering die dekor op te stel sowel as om dit weer af te breek na afloop van die opvoering.
 
Dan was ek die verhoogbestuurder; met aandpak en al en moes ek die beligting behartig op verhogies wat basies net een of twee ligte gehad het. Ek moes die gordyn ook beman (as dié gewerk het!) Een aand moes ek sitplekke vir die gehoorlede aanwys. Maar daarvoor het ek nie juis die geduld gehad nie. Ek het so deurmekaar geraak met die sitpleknommers dat ek net daar en dan besluit het nou maak ek die saal maar van die middel na die kante toe vol. (Niemand het gelukkig beswaar aangeteken nie!) Ek moes elke sanger en akteur se treurmares ook nog aanhoor en nog probeer regstel. Ek kon darem vreeslik goed improviseer! Maar dit bly een van die lekkerste tye wat ons saam deurgemaak het. Op elke dorp het 'n nuwe uitdaging gewag".
 
Jan Estherhuizen van die Sondagnuus op 25 Oktober 1964 skryf die volgende resensie onder die opskrif, HAAI-POLFAAI PROPVOL KWINKSLAE EN GENOT
 
"... Die openingsaand van Xander Haagen se musiekblyspel, 'Haai-Polfaai en Tierlantyn' in die Konservatoriumsaal in Pretoria was 'n luisterryke sukses. Almal wat op die een of ander tydstip in die stuk genoem is, was daar, insluitende verskeie amptenare van TRUK wat maar moes saamlag oor hul organisasie se wel en weë ... Die sopraan Barbara Veenemans was die heldin van die aand, en as Trixie die 'waitress' het sy sang en spel gelewer bo die gehoor se verwagting. Na al die verwysing na TRUK en sy kontrakte, kan ek ook maar vra: waar is háár kontrak? ..."
 
Die resensent Chris de Jager skryf in 1964 [koerant en datum onbekend] onder die opskrif HAAI-POLFAAI EN TIERLANTYN: LIEDJIES IN MUSIEKSPEL KAN BLYWEND WEES:
 
"... Barbara Veenemans (Trixie) 'n lid van die erkende Veenemans-gesin, het die stuk oorheers met haar sang, spel, ondeundheid en persoonlikheid. Haagen behoort dankbaar te wees dat hy haar ... het ... "
 
Hulle neem 'n langspeelplaat van Haai-Polfaai en Tierlantyn op wat so geresenseer word onder die opskrif, HEELS AND FRILLS ON LP [koerant, skrywer en datum onbekend]:
 
"… Barbara Veenemans (the Julie Andrews of South Africa) … 'Ballade vir 'n Waitress' and ''n Boer is 'n boer', as well as her ballades 'A letter from Paree', 'So verlief', 'Breakfast at Taba-Maru', all have a touch of Rogers and Hammerstein."
 
In 'n resensie met die opskrif NUWE PLATE: SATIRIESE MUSIEKBLYSPEL VAN BEROEPSGEHALTE [koerant, skrywer en datum onbekend], word die volgende genoem:
 
"... Vir die eerste keer is 'n musiekblyspel van beroepsgehalte in Suid-Afrika geskep. Die musiek getuig van musikale intelligensie en die teks van diepe insig, nie alleen van kunstenaars nie, maar ook van die internasionale politiek. Die deelnemers is deurgaans uitstekend. Wie kan byvoorbeeld die nommer Teater is nou Smarter beter sing as die veteraan aktrise Mathilde Hanekom? Wat die sang betref is Leonore Brewis [Veenemans], Barbara Veenemans en Nicolai Cencherle die sterre. Mej Brewis [Veenemans] sou 'n uitstekende Anna [Hanna] in die Vrolike Weduwee gewees het. Barbara Veenemans is 'n voortreflike soubrette en Nicolai Cencherle kan in 'n goeie operasanger ontwikkel ... Die musiek van Haai-Polfaai en Tierlantyn kan beslis as grondslag van 'n musiekfilm dien."
 
P.A.K. van The Pretoria News skryf op 15 Oktober 1964 die volgende resensie onder die opskrif SINGERS IN HIGH HEELS
 
"… Barbara Veenemans and Nicolai Cencherle are real finds, both for their singing and their spirited acting. Playing as the maid Trixie, Barbara Veenemans seems a natural soubrette, and with her warm personality, irrepressible verve and her ability to use her body as well as her voice, she held things together and quickened the pace whenever she appeared. The quality of insouciance she gave her performance was unexpected from a player of such slight experience …"

 

 

 

 

 

 
Make a Free Website with Yola.